Gedagte vir die dag: Die amandelboom – leef weer

Die amandelboom is ‘n boom met langwerpige blare met ‘n getande rant.  In Palestina is hierdie bome teen die einde Januarie begin Februarie oortrek met bloeisels; hulle is die boodskappers dat die lente kom.  Hierdie vroee bloeisels gee aanleiding tot die Hebreeuse naam shaqedh wat iets van die idee van “vroeg” weergee.

Numeri 17:8
Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra.

Die priesterskap in Israel was ‘n groot twispunt onder die Israeliete – Korag en sy bende het nie Moses se leierskap of Aäron se priesterskap gerespekteer nie. Iets drasties moes gedoen word om die verset van die Israeliete te beëindig. In Numeri 17, het die Here vir Moses gesê om ‘n kierie vir elkeen van die 12 stamme te kry, en ‘n naam op elke kierie te skryf en dit oornag in die tent van onmoeting te plaas.  Die volgende oggend was net die amandelhoutkierie van Aäron ‘n lewende tak met botsels, bloeisels en selfs ryp amadels.  Daar was nou geen twyfeld dat Aäron die regte man vir die taak was nie.

Alles in hierdie wonderwerk is teenstrydig met die natuur.  Om ‘n stuk droë hout wat reeds lankal van ‘n boom afgesny is, en wat vir ‘n nag in ‘n droë plek opgesluit was, die volgende oggend vol lewe te sien het geen twyfel by die Israeliete gelaat dat God self ingegryp het nie.

Soms voel ons soos een van hierdie kieries – heeltemal uitgedroog en sonder lewe.  Dit is nie onmoontlik vir ons God om ons kierie weer met  botsels en bloeisels te oortrek nie en selfs oornag vrugte te laat dra nie, solank ons net gewillig is om te dien!  Die vraag is: “Is ons gewillig?”

Gebed: Dankie Here dat U my, soos Aäron, geroep het om vir U te getuig en dat U ‘n besondere plan vir my lewe het.  Here, ek is gereed om U vandag te dien. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.