Gedagte vir die dag: Die balsem van Gilead – ‘n teengif vir sonde

Jeremia  8:22
Is daar nie balsem in Gilead nie?
Is daar nie ‘n dokter nie?
Waarom het my volk nie gesond geword nie?

Die balsemboom is nie juis ‘n baie indrukwekkende boom nie. Dit is ‘n klein soort gomboom met smal blare en klein blommetjies wat in warm woestynstreke voorkom. Dit is in Gilead aangeplant. Gedurende die somer skei die boom ‘n soet welriekende hars af. Uit hierdie hars is ‘n olie gepers wat genesende eienskappe bevat het, en wat regoor die wêreld bekend was. Die proses om die olie uit te pers was ‘n groot geheim en die olie is onder streng bewaking na die store van die heersers geneem. Toe argeoloë opgrawings in Gilead gedoen het, het hulle ‘n toring gevind waar die olie na alle waarskynlikheid gedistilleer is. Die toring was so deeglik versterk dat een van die argeoloë opgemerk het: “Hierdie plek is so sterk soos Fort Knox.” Die olie was uiters kosbaar en is dikwels in ruilhandel gebruik. Die karavaan wat Josef na slawerny in Egipte geneem het, het ook van hierdie kosbare balsem by hulle gehad. (Genesis 37:25)

Hierdie kosbare balsem uit die natuur is ‘n pragtige illustrasie van Jesus – die balsem van Gilead, die groot Geneesheer, die teengif vir sonde, en die oorwinnaar van die dood.  Toe Jesus gesterf het, het Satan geglo hy het die oorwinning behaal, maar in werklikheid, het die dood sy angel verloor (1 Korintiërs 15:54-57). God het Jesus met groot mag opgewek (Romeine 1:4). Jesus het die dood oorwin en Hy is die teengif of balsem wat ons siek-sondige siele genees.  Hy is die boom van die lewe en “die blare van die boom, bring genesing vir die nasies.” (Openbaring 22:2)

Gebed: Hemelse Vader, ek dank U vandag dat U die groot Geneesheer is, die Een in wie ek vertrou. Ek dank U vir die helende bloed van Christus waardeur ek die ewige lewe ontvang het en gereinig is van alle ongeregtigheid. Ek Loof en prys U tot in alle ewigheid. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.