Gedagte vir die dag: Die beste belegging

Argieffoto (www.zastavki.com)

Argieffoto (www.zastavki.com)

As jy dit doen, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak (Deut. 14:29).

“Waar is die beste plek om my pensioengeld vir my oudag te belê?” het ek gewonder toe die tyd vir aftrede naderkom. Mense het met allerhande voorstelle gekom, soos: “Vaste eiendom gee die beste sekuriteit, want niemand kan grond wegdra nie.” So gesê, so gedaan, en toe gaan die beleggingsmaatskappy bankrot en alles is daarmee heen, vaste eiendom of nie. Swak belegging!

In Moses se dae was daar geen pensioenskema nie. Elkeen moes maar vir homself voorsiening maak, want daar was geen banke nie. Dit het dus maar swaar gegaan met weduwees en wese wat nie eiendom besit het nie, en dus nie kos kon produseer nie. Die Leviete het ook nie plase gekry nie, maar moes lewe

van die tiendes van die ander Israeliete, omdat hulle die volk moes onder rig in die wet van die Here (Num. 18:24).

Elke Israeliet moes dus ‘n tiende van sy aanwas, diere en gewasse, aan die Leviete gee. Ons lees egter ook van ‘n tweede tiende wat hulle moes gee – hierdie keer net van die graanoes (Deut. 14:22). As hulle ‘n goeie oes gehad het, moes hulle die tiende verkoop en die geld na die tempel neem, waar hulle weer kos kon koop, want hulle moes gaan feesvier voor die Here. Hulle moes ook die

Leviete in hulle omgewing onthou, en hulle uit die tiende help (v 27). Elke derde jaar moes hulle nie hierdie bydrae na die tempel neem nie, maar die fees by die huis hou, sodat hulle die weduwees en wese en vreemdelinge in die omgewing daarmee kon seën. Só kon hulle dan weer op hulle beurt staat maak op God se seën (v 29).

GEBED: “Here, help my om die behoeftiges in ons omgewing te seën uit alles waarmee U my geseën het.”

Bron: Uit die Beek, 2012 – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae