Gedagte vir die dag: Die draagbaar van gebed

praying-handsMark. 2:4- Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ʼn opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak”.

Hierdie verlamde man het waarskynlik gelê op die gebruiklike dun matrassie wat opgestop was met strooi. Ek kan in my verbeelding sien hoe sy vier vriende hom op die matrassie, wat met toue aan die hoeke vasgemaak was, deur die gat in die dak laat sak – tot presies waar hulle hom wou hê, reg voor Jesus se voete.

Probeer jou hierdie gebeure indink: Jesus praat met die mense in die volgepakte huis; bring sy boodskap aan hulle. Dis warm en bedompig in die huis. Skielik is daar ʼn dowwe gekap bokant hul koppe. Stukkies grond en droë modder sif uit die dak neer. Meteens is daar ’n gat in die dak en die blou lug is sigbaar. Dan daal die matras neer met die verlamde daarop – tot reg voor Jesus.

Let op, hierdie vier mense het niks gesê nie; die verlamde ook nie. Dalk kon hy nie eens praat nie. Dit was ook nie nodig dat hulle moes praat nie. Wat hulle gedoen het, het duidelik genoeg gespreek. Vir hulle was dit genoeg dat hul vriend net aan die voete van Jesus kon wees. Jesus moes hom net raaksien.

Wanneer ons ons nood en krisisse in gebed na Jesus toe bring, weet ook ons nie altyd presies wat om te sê nie. Laat sak dan maar net jou probleem in geloof op die draagbaar van gebed tot voor Jesus neer. Hy sien jou raak. Hy weet wat jy nodig het.

Gebed: “Here, daar is iets, iemand, wat ek vandag op die draagbaar van gebed voor U wil bring … Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.