Gedagte vir die dag: Die eikeboom – trots kom tot ‘n val

Isaiah 2:12-18
Want ’n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is,
en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;
en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon
en oor al die eikebome van Basan;
en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels;
en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure;
en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.
Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word;
en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.
En die afgode sal geheel en al verdwyn.

Selfs vandag is eikebome bekend vir hulle lang lewe en krag. In die Bybel was die eikeboom ook getuie van verskillende gebeure.  Dit was byvoorbeeld by die eikeboom wat by die heilige plek van die Here is dat Josua ‘n groot klip opgerig het as teken dat Israel onderneem het om die Here te dien en na sy stem te luister (Josua 24:14-26).

Ten spyte van die krag van die eikeboom, word daar ook negatiewe gebeure met hierdie boom geassosieer.  Die eike van Basan simboliseer byvoorbeeld trots en hoogmoed (Sagaria 11:2).

Hierdie boom rig ‘n waarskuwing aan ons – dit is maklik om arrogant te wees, om die eer vir dit wat ons goed doen in te oes en onsself in ons sukses te koester. Dit is maklik om geld te verafgod, om op wêreldse sukses eerder as geestelike oorwinnings te fokus.  Wanneer die Here ons sukses laat behaal in ons lewens, laat ons nie die bron van daardie sukses vergeet nie. Laat ons nederig wees, want die Here skenk genade aan die nederiges.

Gebed: Here, vergewe my vir al die kere wat ek op my eie krag staatgemaak het en my trots tussen U en my gekom het. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.