Gedagte vir die dag: Die geheim van die lewe

geheimPsalm: 111:10- Om gelukkig te wees, moet jy die Here dien. Dit is die goue reël van die lewe. As jy dit doen, verstaan jy die geheim van die lewe. Die Here verdien al die dankies wat mense Hom kan gee.

O, mense is slim. Altans, so dink hulle. Elke tweede mens het ʼn ander resep vir sukses en geluk in die lewe. Die meeste van die tyd gaan die resep oor jouself en alles wat jy kan doen om meer vir jouself in te palm sodat jy verseker kan wees van ʼn lekker lewe op aarde. Mense vergeet oor die algemeen dat die feit dat hulle asemhaal en die feit dat hulle energie en passie in die lewe kan hê genade en ʼn gawe van God is. God het die mens as verteenwoordiger aangestel. Die sondeval het alles kom skeef trek en die mens is van God verwyder. Dit is in die “toestand” wat elke mens die lewe inkom. Ja, dit is hoe jy gebore word. Jesus het egter alles kom herstel. Deur Hom is daar vir elke nuwe lewe, vergifnis, genade, verlossing en ʼn nuwe, vars begin. Jy word as verteenwoordiger van God herstel deur Jesus Christus. Daarom is die geheim van die lewe om die Here te ken en die Here te dien. Daarsonder is jy en bly jy verlore. Daarsonder is jy nie met God versoen nie en is jy besig om vleeslik en uit eie krag die lewe aan te pak. Het jy al die goue reël van die lewe ontdek? Is Jesus jou eerste liefde? Is Hy die een wat jy volg en wat jy voluit dien? Dit is die geheim van die lewe.

Jesus gee nie vir ons ʼn resep om die weg na God aan te wys – soos leiers van ander godsdienste doen nie. Hy is self die weg. – Karl Barth

Gebed: Here, dankie dat U die geheim van die lewe is. Dankie dat die goue reël van die lewe daarin lê, naamlik om U te ken.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.