Gedagte vir die dag: Die goue reël

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” Matteus 7:12

Tot en met die tyd van Jesus het Sokrates en ander groot filosowe en denkers van die tyd etiese gedrag soos volg opgesom: Moet nie aan ander doen wat julle nie wil hê hulle moet aan julle doen nie. Dit is ‘n negatiewe stelling dit fokus op wat jy NIE moet doen nie. As jy nie wil hê iemand moet jou seermaak nie, moet jy hom nie seermaak nie. As jy nie wil hê iemand moet vir jou leuens vertel nie, moet jy nie vir hom leuens vertel nie. Dit klink goed of hoe? Daar is ‘n probleem met hierdie soort filosofie want dit laat jou toe om van ‘n saak of probleem te onttrek. As dit die Barmhartige Samaritaan waarna ons gister verwys het se filosofie was, kon hy maar sy skouers opgetrek het en verby die gewonde man gestap het want: “Dit is nie my verantwoordelikheid nie. Ek het hom nie beroof nie. Ek het hom nie seergemaak nie. Dit is nie my probleem nie.”.

Maar dan kom Jesus en in Matteus 7:12 maak hy die mees revolusionêre etiese stelling oor hoe ons ons lewens elke dag moet leef. Daar is ‘n reuse verskil tussen die negatiewe stelling ” Moet nie aan ander doen wat julle nie wil hê hulle moet aan julle doen nie” en die positiewe stelling “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Die positiewe stelling laat ons nie toe om te onttrek nie. Dit maak ons proaktief. Indien jy dink hoe jy wil hê ander jou moet behandel, dan sal jy hulle so behandel.

Stel jou voor hoe die wêreld daar sal uitsien as mense hierdie woorde van Jesus uitleef. Selfsug en selfbelang sal iets van die verlede wees. Almal sal dienaars wees. Maar helaas ons lewe in ‘n wêreld wat ons leer om na ons eie belange om te sien, om soveel moontlik te neem en so min as moontlik te gee. Ons lewe in ‘n wêreld wat ons leer dat “wat myne is, is myne”. Die hart van ‘n dienaar leer ons egter dat “wat myne is, behoort aan die Here en ek sal dit deel”.

Gebed: Hemelse Vader, dit is so maklik om in die selfsug van die wêreld te verval. Leer my om ander met welwillendheid, respek en liefde te behandel. In u Naam bid ek dit. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.