Gedagte vir die dag: Die granaatboom – die geheel is beter as net dele daarvan

Eksodus 28:31-34 -Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef. In sy middel moet daar ‘n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos ‘n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie. Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin, afwisselend ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie rondom die hele soom van die mantel.

Granate is eksotiese, pragtige vrugte wat heel anders as enige ander vrug is. Hulle is omtrent die grootte van ‘n appel met ‘n harde leeragtige rooi of pienk skil. As jy ‘n granaat oopsny sal jy merk dat die binnekant verdeel is in hokkies gevorm deur ‘n bitter wit gedeelte en gepak met honderde sappige rooi pitte. In 1 Konings 7:13-22, lees ons ook van die granate wat op die twee pilare voorkom wat opgerig is by die ingang van die voorportaal van die tempel wat koning Salomo in Jerusalem gebou het.

Vir baie mense is die granaat simbolies.  In die vroeë Joodse geloof is daar geglo dat die granaat oor 613 pitte beskik – een vir elk van die wette in die Tora. Die granaat word ook dikwels gesien in skilderye en standbeelde van die maagd Maria en baba Jesus waar dit baie keer dui op die opstanding en die ewige lewe.

In die vroeë Christelike Kerk was die granaat ‘n simbool van die Kerk, met sy baie pitte wat die baie gelowiges verteenwoordig wat een algemene Christelike Kerk vorm.

Elke pit, soos elkeen van ons, is volledig, maar saam vorm dit ‘n volmaakte geheel.

Gebed: Dankie Hemelse Vader vir die prag van die granaat en vir alles wat dit simboliseer. Dankie dat U ons vandag daaraan herinner dat ons deel is van u Kerk, ‘n liggaam van gelowiges verenig onder u heerskappy.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.