Gedagte vir die dag: Die hele wêreld moet hoor van God

Psalm 67:3,4 – Almal op aarde moet sien hoe groot en goed U is. Volke wat U nie ken nie, moet besef dat U mense red. God, al die volke moet U prys. Hulle almal moet U naam prys.

Daar is mos ʼn uitdrukking wat sê: Talk is cheap. Dit is baie waar, want baie mense praat te maklik, te vinnig en sonder ophou. Dit is belangrik om te dink voor jy praat en dit is belangrik om sinvol te praat as jy praat. Dan is die uitdrukking nie op jou van toepassing nie. Die een ding wat ek verseker weet, is dat dit nodig is om te praat oor God, Sy genade, Sy liefde, Sy goedheid en die kruis en leë graf van Jesus. Dit is die een ding wat ek gehoor het omdat iemand daarvan vertel het en daaroor gepraat het. Dit het my lewe verewig verander – sodanig dat ek nooit weer dieselfde sal wees nie. Miljoene mense in die wêreld se lewe is al so aangeraak en verander. Waaroor praat jy graag? Wat is vir jou belangrik genoeg dat jy nie kan stilbly nie? Wanneer laas het jy oor God en Sy liefde in jou gesin en jou vriendekring gepraat? Dis die een ding wat iemand se lewe blywend en vir ewig kan verander. God wil hê dat almal van Hom moet weet, dat almal van Hom moet hoor. Word deel van God se plan om die wêreld te verander.

ʼn Mens getuig nie oor Christus wanneer dit jou pas nie. Jy is ʼn getuie. Jy leef jou getuienis, ook wanneer jy glad nie eens daaraan dink nie. – RE Coleman

Gebed: Here, my lewe het verander toe iemand oor U gepraat het. Maak my ʼn getuie en werktuig in U hand. Gebruik my as ʼn instrument om die Goeie Nuus uit te dra.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.