Gedagte vir die dag: Die Here is by jou

HandePsalm 145:18 – Die Here is by elkeen wat Hom dien en aanbid. Hy los niemand alleen wat Hom dien nie. Hy doen alles wat sy getroue kinders van Hom vra.

Ek dink elke mens het ʼn diepliggende vrees vir alleen en eensaam wees. Daar is min dinge so sleg as om in ʼn wêreld met sewe biljoen mense alleen te voel. Het jy dalk al iewers in jou lewe ʼn ervaring gehad waar iemand of ʼn groep mense jou doodgewoon los? Laerskoolkinders is baie goed daarmee om op te kliek teen ʼn maaitjie en haar net te los. Tienerverhoudings is ook mos eers so ʼn saam koekery en dan los die een die ander. Daarna is dit omtrent ʼn geween en gekners van tande omdat iemand gelos is. Ja, die mens is nou eenmaal gemaak om in verhoudings met ander mense te leef. Niemand is gemaak om gelos te word en alleen te wees nie. Die belangrikste verhouding in enige mens se lewe is jou verhouding met God. Hy is dan ook die een Persoon wat so betroubaar is dat Hy jou nooit sal los nie. Saam met God sal jy nooit alleen wees nie. Sy saam beteken saam veraltyd – anders as wat ek en jy vandag gewoond is. Jy kan altyd na Hom draai en weet sy arms is om jou. Hy begeer om saam met jou te wees. Hy het jou gemaak sodat Hy altyd by jou kan wees. Hou vas aan die waarheid veral in jou moeilike en swaar tye.

Ek het vroeg reeds besef: God is my bondgenoot. Ek kan Hom alles vertel, en Hy sal my nog altyd liefhê. – Jim Conway

Gebed: Here, dankie dat ek my lewenspad elke tree saam met U kan stap. Dankie dat U altyd by my is en my nooit los nie.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Carla ·

Ons woon reeds vyf jaar in die buiteland en dis wanneer jy besef hoe alleen jy is sonder jou land en dit wat bekend en geliefd is. In hierdie tyd was God so naby en sonder Hom sou dit ondraaglik gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.