Gedagte vir die dag: Die Here is oral

wereldPsalm 139:9,10 – Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na my toe te kom nie. Oral hou U my vas. En U lei my op u pad.

Ek was ʼn kort tydjie gelede in Amerika om ʼn geestelike konferensie by te woon. Die mense daar is so anders en die leefwyse daar so verskillend van ons sʼn hier in Afrika. Die winkels is groot en die restaurante, letterlik in hulle duisende, is altyd vol mense. Dit is ver van hier, maar God is ook daar net soos Hy hier by ons is. Dis nogal iets wat ʼn mens sukkel om te begryp. Terwyl ek hier skryf, helder dag, is dit donker nag op ander plekke en miljoene mense is besig om te slaap. God is hier by my agter my rekenaar en Hy is by hulle terwyl hulle slaap. Net so is Hy by jou terwyl jy hier lees. Môre as jy jou dalk in moeilike omstandighede bevind of angstig raak oor sekere dinge, onthou God is by jou en Hy hou jou vas. Ja, die ooste en die weste is die twee dele van die wêreld wat nooit by mekaar uitkom nie. Dit is die simboliese taal wat die Bybel gebruik om te demonstreer as iets oneindig ver is. Selfs al voel God dus op sy verste, lees die Psalm vir jou dat God eintlik naby jou is. Hy is by jou. Jou emosies kan maklik vir jou jok. Die waarheid oor God is dat Hy by jou is en jou styf vashou.

ʼn Dooie God is ʼn skepping van mense. Die lewende God is die skepper van mense. – Anoniem

Gebed:
Here, dankie dat U altyd by my is. Dankie dat U my vashou ook in die tye wat U ver van my af voel.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.