Gedagte vir die dag: Die Here let op jou trane

Psalm 56:9 – U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is. My trane sal ʼn dam vol maak. U het daarvan boek gehou, U weet.

Die meeste van die tyd is trane ʼn baie hartseer ding. ʼn Mens kry mos die uitsondering wanneer iemand huil van blydskap, maar oor die algemeen het dit met seer en pyn te doen. Dis in sulke tye wat die Here ook baie ver voel en soms selfs asof Hy van jou vergeet het. Dis in hartseer, tranerige tye wat jy baie alleen voel in ʼn wêreld met meer as sewe biljoen mense. Saam met trane kom ʼn broosheid wat jou ʼn maklike prooi maak vir die pyle van die bose. Dis in die tye wat jy aangeval word met leuens oor ʼn God wat kwansuis onsimpatiek is, ver is en nie werklik vir jou omgee nie. Niks is verder van die waarheid nie. God is op sy naaste aan jou in tye wat jy hartseer is en wanneer jy trane stort. Hy is die Een wat jou dra in jou swaar en moeilike tye. Elke traan van jou is in God se boek opgeskryf – dit is die beeld wat in die Psalm gebruik word. Dit wil vir jou verduidelik dat God baie naby aan jou is in jou seer. Dit sê vir jou Hy is intens by jou betrokke in jou nood en Hy hou jou styf vas. Jy kan jou seer met God deel en Hom vra om jou seer en stukkende hart gesond maak.

Wees seker daarvan dat God kan troos soos niemand anders nie; dat Hy jou trane sal afvee voordat jy nog roep, sal antwoord. Hy weet immers wat jy nodig het. – Adam Barmenthlo

Gebed: Here, dankie dat U baie naby my is in my pyn en seer. Dankie dat U my styf vashou en dat ek my hart teenoor U kan uitstort.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.