Psalm 57:10, 11 – Tussen verskillende volke sal ek U prys, Here. Ek sal lofliedere sing om U tussen vreemde nasies te eer. Ek doen dit omdat U liefde vir my baie groot is. Dit is so groot dat ʼn mense dit nie kan meet nie. En U bly getrou.
Die tegnologie vandag is so vooruitstrewend en modern dat daar min dinge is wat onmoontlik is. Wat vandag is onmeetbaar groot? Enige iets kan omtrent gemeet word. ʼn Vliegtuig kan so hoog vlieg as wat hy kan – ons weet presies hoe hoog is hy van die aarde af. ʼn Skip kan waar ook al op die oseaan vaar en jy weet presies hoe diep dit tot onder die seebodem is. Elke berg se presiese hoogte is bekend. Ons kan bepaal hoe ver elke planeet van die aarde af is. Wat is dan onmeetbaar? Die een belangrike onmeetbare, onverklaarbare, onoortreflike aspek wat die tegnologie nooit sal kan verstaan, meet of ontsyfer nie is die onbeskryflike groot liefde van God. Wat ʼn voorreg: Die een onmeetbare aspek van die heelal wat mense se lewens radikaal en vir ewig aanraak en verander, is God se liefde vir my en jou. Die waarheid is dalk te groot om in ʼn oomblik te begryp en te absorbeer. Daarom, maak tyd om stil te sit en in stilte hieroor te dink. Laat toe dat God se liefde diep in jou hart indring. Laat toe dat God se liefde jou lewe verander. Dink aan die grootste liefdesdaad van alle tye: Jesus aan ʼn kruis op Golgota. Dink aan Jesus se hande en voete met die merke van liefde vir jou.
Liefde kom na ons toe vanuit die hemel sodra ons daarvoor soek of vra. – Pearl S Buck
Gebed: Here, dankie vir U onmeetbare, onbeskryflike liefde vir my. Al verstaan ek min daarvan en weet ek dit is onverdiend, mag dit elke dag my lewe meer en meer aanraak en verander.
Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy