Gedagte vir die dag: Die Here voel saam

Teks: Luk. 7:13: “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry.”

Die smart van ʼn huilende, onbekende vrou van Nain op pad na die begrafnis van haar enigste kind, het Jesus diep geraak. Jy lees dikwels in die Evangelies dat Jesus vir mense “innig jammer” gevoel het. Die Engels sê: “He had compassion on her.”

Hierdie woord het in die grondtaal ʼn baie besondere betekenis. Dit kom van die Griekse woord vir “ingewande.” Daar is geen sterker woord in die Griekse taal om diepe en opregte meegevoel mee te beskryf nie. In die Hebreeuse konteks is veral die hart, longe en lewer as die setel van die gevoel en emosies beskou. Dit dui m.a.w. op ʼn baie intense innerlike emosie. Letterlik vertaal, beteken dit dat “jou ingewande inmekaar ruk.”

Miskien het jy as ouer al iets daarvan ervaar, soos daardie keer toe jou kind voor jou oë met sy/haar fiets val dat die nerwe waai en die bloed loop. Kan jy iets van daardie gevoel hier in jou binneste herroep, hoe jy letterlik, fisies saam met jou kind seergekry het? Miskien het jy al so ʼn intense smart ervaar dat jy fisies hartpyn beleef het. Dis waar die woord “hartseer” vandaan kom.

Dit was Jesus se gewaarwording, Sy emosie toe Hy na hierdie weduwee in haar smart kyk. Wanneer God na mense in hulle smart en leed kyk, kyk Hy nie soos ek en jy net na ons kinders nie, Hy kyk ook na Sy skepsele. Niemand sal meer pyn ervaar as ʼn pragtige kunswerk beskadig word, as die kunstenaar self nie. Daarom is daar niemand wat ons seer méér vir Hom aantrek as God self nie – die Een wat ons gemaak het.

Gebed: Dankie Here dat U ook so oor my voel in my pyn en smart. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.