Gedagte vir die dag: Die humorsin van Jesus

Genesis 17:17
Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ‘n man van honderd ‘n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ‘n kind in die wêreld bring?

Abraham was die vader van die Jode. Toe sy seun gebore is, het hy hom (soos God hom beveel het) Isak genoem. Isak beteken “hy lag”. Jesus, ‘n direkte afstammeling van Abraham, was deel van ‘n kultuur wat vandag steeds groot vreugde daarin vind om te lag.

Jesus het ‘n goed ontwikkelde sin vir humor gehad wat hy dikwels gebruik het om belangrike sake te belig. Een so ‘n voorbeeld vind ons wanneer Hy praat oor ons gesindheid wanneer ons byvoorbeeld vir die armes iets gee.

Hy skets ‘n woordprentjie wat ‘n mens laat glimlag. “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat.” (Matteus 6:2). In my geestesoog sien ek die belangrikes wat elke keer met groot trompetgeskal vir die armes iets gee, net om tog raakgesien te word.

Dan volg die trefreël – “Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (Matteus 6:3-4)

Soos goeie opvoedkundiges en sprekers vandag, het Jesus humor gebruik om die aandag van sy luisteraars te kry. Sy humor was egter opbouend en insiggewend sodat ander daardeur kon leer. In ons moderne tyd is humor dikwels growwe humor. Mense lag ten koste van iemand anders met wie daar op ‘n neerhalende manier die spot gedryf word.

Ja, dit is wonderlik om vrolik te wees en te kan lag. Dit verryk dikwels ‘n situasie. In Spreuke 17:22 lees ons: “‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.” Ons pogings om humoristies te wees, moet egter nooit ten koste van iemand anders wees nie!

Gebed:  Here Jesus, plaas ‘n wag voor my mond sodat ek nie deur my humor iemand onnodig seer maak nie. Dit vra ek in u Naam. Amen.

Bron:Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem van Centurion ·

Ek het ‘n opname van ‘n konsert van Des en Dawn Lindberg van doerie tyd. Dis opmerklik hoe die gehoor lag as Des sing oor hoe die “lammers lam”, die “blesbokke bles” en die “kakkerlakke lak” in hul destydse trefferlied – Die gezoem van die bye.

Daardie sin vir humor is kosbaar en iets wat uitgesterf het. Vandag is dit mos anders; hoe krasser, hoe beter. Ek droom nie net van ‘n “plaas waar die trekkers, trek te same” nie, maar ook van die dag wat ons as ‘n land en ‘n nasie sal terugkeer na God en onsself sal reinig.

Net so vir interesssantheid – Des en Dawn is Jode – nogal gepas as ek so na dié boodskap luister.

H J Bester ·

Met of sonder humor – laat ons immers elke dag weet hoe om God gehoorsaam te wees en Sy wil te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.