Gedagte vir die dag: Die Here is jou alles

Psalm 18:3 – Die Here is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting.

Psalm 18 is een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. Dit is so visueel geskryf. ʼn Mens verstaan daarom soveel makliker wat dit sê en assosieer ook soveel makliker met wat daar staan. Daar kom tye in ʼn mens se lewe wanneer jy voel jy word aangeval. Jy ervaar die bose pyle van die vyand en dinge raak soms net te veel. Psalm 18 sê vir jou die Here is vir jou ʼn skild waarmee jy daardie pyle kan afweer. Daar kan ander tye in jou lewe wees wanneer jy voel te veel mense vra te veel dinge van jou. Dis asof jou eie program net onder jou uit hardloop en of jy beheer verloor het. Dit is in sulke tye dat die Here ʼn Skuilplek vir jou kan wees waar jy sommer net kan gaan sit en weer jou batterye herlaai. Jy kan by Hom gaan wegkruip. Hy is die Een wat jou in moeilike situasies help en uitkoms gee. Hy is die een wat jou uit die modder trek. Ja, Hy kom gee vir jou ʼn nuwe naam en ʼn nuwe lewe. Hy is jou redder. Hy is jou rots. Sorg dat jou voete op die rots is. Maak seker dat Jesus, die Rots,  jou fondament is. Dan sal jou huis nooit wankel nie.

Gebed: Here, by U kan ek wegkruip. By U kan ek skuil. U is my rots waarop ek die huis van my lewe bou. Dankie dat ek daarop enige storm kan deurstaan. Ek loof U, Here!

 Jy hoef nooit baie hard na God te roep nie. Hy is nader aan jou as wat jy dink. – Broer Lawrence

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.