Gedagte vir die dag: Die juk van Jesus (1)

Teks: Mt. 11: 28+29: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle.”

Jesus praat hier met mense in ʼn primitiewe landelike gemeenskap. Hy het altyd beelde gebruik wat eietyds aan hulle is en wat hulle kon verstaan. As Hy dan praat van “uitgeput” en “oorlaai”, en van ʼn juk, is dit duidelik watter beeld Hy hier voor oë roep – die beeld van osse wat jukke dra en wat na ʼn dag se harde werk en swoeg, moeg en uitgeput is. Die mense van Sy tyd vir wie hierdie ʼn alledaagse beeld was, kon hulle deeglik daarmee identifiseer.

Die meeste mense vandag ken ʼn juk net uit prentjies of het dit dalk in ʼn museum gesien. Dis die horisontale hout balk wat voor die skowwe van die osse gekom het en met skeie in plek gehou is. Dit was belangrik dat so ʼn juk met sy skeie gepas het en reggestel was, anders kon dit die os geskuur en gewurg het en verhinder het dat hy voluit kon trek.

Nou klink dit half-vreemd dat Jesus vir mense wat onder die juk van vormgodsdiens, sonde en die swaarkry van die lewe sukkel, nooi om ʼn ander juk op te neem. Waarom wil Hy een juk met ʼn ander een vervang? Waarom nie die mense heeltemal van ʼn juk verlos en vry laat rondloop nie?

Nee, die Here verlos ons nie om soos ʼn losloper-os rond te dwaal nie. ʼn Juk impliseer verantwoordelikheid. Dit impliseer ʼn taak en roeping. Dit verwys na ʼn doel en ʼn bestemming. ʼn Juk kan ook nie net deur een os gedra word nie. Ten minste twee of selfs ʼn span word geïmpliseer. Dit beteken ook dat ʼn mens nie geroep is om as ʼn eenling deur die lewe te gaan nie
– ons is deel van ʼn span, Sý span.

Gebed: Dankie vir U juk wat anders is. Ek het nodig om U doel en bestemming in my lewe te vind en te vervul. Amen.

Outeur:  Dr. Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.