Gedagte vir die dag: Die juk van Jesus (2)

Teks: Mt. 11: 28, 29+30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle… My juk is sag en my las is lig.”

Waarom sou Jesus vir mense wat alreeds worstel met ʼn juk wat hulle seermaak, nooi om ʼn ander juk op hulle te neem? Die verskil kom in by die woordjie “My.” Jesus se juk is anders. Sy juk is sag.

Nou sê Jesus: “Neem my juk op julle… My juk is sag en my las is lig.” ʼn Mens kan nou vra: Hoe kan ʼn juk “sag” wees? Dit word immers van hout gemaak? Die woord in die grondtaal kan met die volgende woorde vertaal word: Sag, aangenaam, genadig, vriendelik, gemaklik of pasgemaak. Miskien sal laasgenoemde die beste reg laat geskied aan die woorde van Jesus as Hy sê dat Sy juk sag is – pasgemaak, “tailor-made”.

Daar is ʼn legende uit die vroeë kerk, wat weliswaar nie deel van die Bybel is nie, maar wat ek goed kan glo. Dit lui naamlik dat Jesus bekend was as die beste jukmaker in Galilea. Waarom sê ek dat ek dit kan glo? Ons lees in Mk. 6: 3 dat Jesus ʼn timmerman was voordat Hy met Sy publieke bediening begin het. Verder glo ek dat alles wat Jesus gedoen het, die beste was. Ons weet ook dat jukke een van die produkte van ʼn skrynwerker was. Daarom sal dit my nie verbaas dat Jesus bekend was as die beste jukmaker in Galilea nie.

Ek kan my nogal voorstel dat daar bokant Jesus en Sy pa Josef se skrynwerkerswinkel in Nasaret ʼn inskripsie was – “My jukke pas volmaak.” Sy jukke het perfek op elke os gepas.

Dis wonderlik dat God dit so beskik het dat Sy Seun jukke vir osse sou maak voordat Hy mense sou bedien en help.

Gebed: Jukmaker van Nasaret, ek wil U juk dra. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.