Gedagte vir die dag: Die juk van Jesus (3)

Teks: Mt. 11: 28, 29+30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle… My juk is sag en my las is lig.”

Waarom sou Jesus ons seermaak-jukke met ‘n ander juk – Syne wou vervang? ‘n Juk impliseer “betrokkenheid”, “deel wees”, “verantwoordelikheid” en deel wees van ‘n span. God het vir elkeen van Sy skepsele ʼn plek, ʼn taak, ʼn plan en ʼn roeping in Sy wêreld.

Om hieraan uitvoering te kan gee, het die Here vir ons elkeen die nodige talente en gawes gegee. Dit is belangrik om te verstaan dat die Here vir ons elkeen die spesifieke toerusting gegee het om ons spesifieke roeping en lewenstaak te vermag.

Dis veral in hierdie verband dat ons die juk van Jesus moet verstaan. Sy juk is vir elkeen “pasgemaak” – dis wat die woord “sag” ook in die grondtaal beteken. Die vraag wat ons elkeen vir ons self moet afvra is: Is my lewe vervuld; doen ek waarvoor ek spreekwoordelik in die wieg gelê is; gebruik ek my talente ten volle in dít wat ek doen of is ek in ʼn lewens- of werksituasie waar ek onvervuld en gefrustreerd is omdat ek buite die raamwerk van my gawes en talente moet funksioneer?

Dit kan nooit God se wil wees dat ons deur die lewe moet gaan as gefrustreerde en onvervulde mense nie, mense wat ʼn juk dra wat hulle seermaak en hulle nie pas nie. Die Here se juk is nie daar om die lewe vir jou moeilik te maak nie, maar om jou las lig te maak.

Gebed: Dankie dat ek na U kan kom met die “onpas”-juk wat my seermaak. Help my om die regte juk te vind wat my pas. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van die AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Ons kan maar net begeer om die “ligte” juk van Christus te dra want die sonde verhoed ons daarvan. Laat ons, vanweë die werking van die Heilige Gees, toegang verkry tot die genade van Christus en smaak hoe heerlik dit is om die ligte juk van Hom te dra.

Wees ons genadig en maak ons diensbaar in liefde tot ons naaste op hierdie aarde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.