Gedagte vir die dag: Die juk van Jesus (4)

Teks: Mt. 11: 30: “My juk is sag en my las is lig.”

Die woord wat uit die grondtaal met “sag” vertaal word, kan ook vertaal word met “vriendelik” of “pasgemaak” (“tailor-made”).

Jesus se juk is ʼn pasmaak-juk – presies vir jou gemaak. Dis nie ʼn “een-grootte-pas-almal” nie. Hy verwag nie van jou wat buite jou vermoë en begaafdheid is nie. Hy verwag nie ʼn vyf-talent prestasie as Hy jou met net twee talente bedeel het nie.

In Sy wysheid het Hy aan elkeen die vermoë gegee om te doen wat Hy van jou verwag. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. (1 Kor.10: 13.) Niemand ken ons beperkings beter as Hy nie. Die Bybel sê immers in Psalm 103: 14: “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.”

Bedink so ʼn bietjie die “jukke” in jou lewe. Dis veilig om te sê dat as jy ʼn juk het wat jou seermaak, dit nie Jesus se juk is nie. Daar is jukke wat die duiwel op ons lê. Daar is jukke wat ander mense op ons lê, en dan is daar natuurlik ook die jukke wat ons self opneem, maar wat nie Syne is nie.

Ek het eenmaal by ʼn mannekamp aan die groot getal manne gevra om in ʼn groepbespreking te besin oor die jukke in hulle lewe – onder andere wat hulle loopbane betref – wat voel dat wat hulle beroep betref hulle nie hulle talente gebruik nie en wat in hierdie verband voel dat hulle nie die Here se juk dra nie? Meer as helfte het te kenne gegee dat dit in hulle lewe die geval is.

In watter konteks van jou lewe jy ookal mag voel dat jy ʼn juk dra wat die Here nie op jou gelê het nie – Jesus nooi jou om na Hom te kom en jou onpas juk vir Syne te kom verruil.

Gebed: Here, ek wil gelowig bid dat U hierdie juk wat my so seermaak met U s’n sal vervang. Amen.

Outeur:  Dr. Isak Burger (President van AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.