Gedagte vir die dag: ‘Dié Kersfees sal ek nooit vergeet nie’

(Foto: Yvette Fang/Pixabay)

“Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val. Daar, onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak”” (Johannes 1:9-10).

Skrifgedeelte
Johannes 1:9-10

Oordenking
Dié onthou-Kersfees wou ons ánders hê: weg van die gewone Kersboom- en blinkliggie-herdenkings, besluit ons gesin om Oukersaand op ʼn eenkant, stil strandjie deur te bring en die nag op die seesand in ons tweeman-tentjies te slaap. “Eenvoudig” was die wagwoord. Ons geskenke aan mekaar was drie handgeskrewe briewe wat diep uit ons harte gekom het: Die eerste brief aan mekaar was ʼn “dankie-vir-jou-sê-brief”; die tweede een het begin met “Ek bewonder jou omdat … ”; en die laaste een het gelees: “Weet jy, ek is die Vader so dankbaar vir …”

Daardie aand was die vere van seemeeue ons piekniekkombers-dekor, die geklots van branders vir ons die mooiste Kersmusiek, die geknetter van ʼn klein vuurtjie ons warm-maak-lig, die helder sterre teen die nagblou hemel ons onthou van die Betlehem-kind. Daarin het ons die opregte woord-geskenke aan mekaar baie diep gebêre voordat ʼn hemelse vrede ons aan die slaap gesus het.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.