
Argieffoto (Foto: Charlein Graci/Unsplash)
“Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele” (Matteus 19:14).
Skrifgedeelte
Matteus 19:14
Oordenking
Ek het ʼn vriendelike woord vir sommige pa’s vandag. Moenie jou kinders ontmoedig om in God se koninkryk in te gaan nie. Ek kan sommer hoor hoe sommige pa’s sê: “Nee, Angus, ek sal dit nooit doen nie.” Maar waarom moet Ma die kinders alleen kerk toe vat? Waarom sit jy die koerant in die kar en lees tot die diens verby is? Besef jy nie dat jou kind presies gaan doen wat jy doen wanneer hulle ouer is nie, want jy is hulle held? Moenie hulle verhoed om na Jesus toe te kom nie. Jy moet vir hulle leiding gee. Jy moet vir hulle Bybelstories lees voor hulle gaan slaap – dit is nie hulle ma se werk nie.
Ons het elke Maandagmiddag ʼn gebedsbyeenkoms in die klein kapelletjie op die plaas. Daar is verskeie kinders tussen die ouderdom van vyf en veertien wat op fietse saam met hulle ouers kom. Hulle is betrokke by die gebed. Hulle bid die een na die ander. En hulle lees uit die Bybel – dit is so pragtig; dit bring trane in my oë. Ek is seker dit laat Jesus in die hemel vir sy Vader sê: “Luister na hulle, Vader. Hulle praat met Ons.”
Moet asseblief op geen manier jou seuntjie of dogtertjie verhoed om kerk toe te gaan wanneer hulle wil gaan nie. Gaan saam met hulle. Pa, wees die leier.
- Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.
Amen!!!