Gedagte vir die dag: Die krag van Lofliedere

kruis2 Kron 20:21 – Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne.

Is dit nie ‘n bietjie agterstevoor om reeds voor die veldslag die Here te begin loof nie?” Nee, dit is ‘n teken van geloof en vertroue. Dit was seker ʼn interessante skouspel, met die kerkkoor wat voor die soldate uit marsjeer en Psalm 136 sing. Die Here het mos belowe dat hulle nie eens nodig sou hê om te veg nie, maar net sou kyk hoe God die probleem oplos (2 Kron 20: 17). Ons lees ook dat Paulus en Silas lofliedere in die nag gesing het terwyl die ander gevangenes na hulle geluister het (Hand 16:25). Dinge het donker en gevaarlik gelyk, maar hulle aandag was op die Here gevestig, nie op hul omstandighede nie. Josafat het die boodskap van die Here ernstig opgeneem, en sy optrede daardeur laat bepaal. Hierdeur het hy die regte leiding aan die volk gegee. Toe hy hulle dus raadpleeg, het hulle met hom saamgestem dat die lof van die Here voorrang moet kry. Die Here het toe gemaak dat die vyand onderling stry kry en mekaar uitmoor, sonder dat Josafat en sy mense betrokke geraak het. Hulle kon net agterna die buit bymekaarmaak en die Here weer loof. Vertrou ons die Here in so ‘n mate dat ons Hom kan loof vir die uitkoms voor dit in sig is? Ware geloof is om op die beloftes van die Here staat te maak, al kan ons nie die vervulling daarvan sien nie (Heb 11:39-40).

Gebed: “Here, dankie dat U ons op die pad van geloof wil begelei. Ons vertrou U ten volle, want U is lief vir ons.

Bron: Uit die Beek- Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.