Gedagte vir die dag: Die Here is naby in jou pyn

Psalm 34:19 – Die Here is naby mense wat hartseer is; Hy gee mense wat moedeloos is, weer nuwe moed.

Dis ongelukkig die waarheid: Die aarde is deur ʼn sondeval getref. In die woorde van Joseph Stowell, bekende prediker en skrywer van Amerika: “If we really understood the depth of the fall and the grip that sin ha son the world, we would be suprised that anything good happens at all.” Dis waar. Die sondeval het voorwaar verwoestingswerk aan God se skeppingswerk kom aanrig. Deur die sondeval het siekte, ellende, gebroke verhoudings en ander onvolmaakthede deel van die lewe geword. Moedeloosheid en hartseer soos dit in die Psalm beskryf word, is deel van die lewe. Soms sien jy die seer en pyn in ander mense se lewens en dit maak dat jy hulle baie keer jammer kry. As jy daardie pyn en seer egter aan jou eie lyf voel, lei dit baie keer tot ʼn krisis van twyfel en onsekerheid. Hou vas aan die waarheid dat God naby aan jou is as jy hartseer is. Juis in die tye wat Hy dalk die verste voel, kan jy weet Hy is die heel naaste aan jou. Dis dan wat Hy jou vashou en dra.

Gebed: Here, dankie dat ek kan weet dat U naby my is wanneer ek hartseer is. Dankie dat U my vashou in my tye van seer en swaarkry.

Niks kan ons beter troos nie as die helder wete dat ons, midde-in ons ellende, deur die God van liefde vasgehou word. – Johannes Calvyn

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannetjie ·

Gedagte vir die dag, maak my dag! Baie dankie my God dat U vir ons dra en dat U in goeie en slegte tye met ons is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.