Gedagte vir die dag: Die olyfboom – deur God gesalf

1 Samuel 10:1
Nadat die slaaf vooruitgeloop het, het Samuel ‘n kruik olie gevat en dit oor Saul se kop uitgegiet, hom gesoen en gesê: “Die Here het jou tot regeerder oor sy besitting gesalf.”

1 Johannes 2:20
Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die waarheid.

Nog ‘n belangrike boom in Israel was die olyfboom. In die Bybel word dié boom as simbool vir die nasie Israel gebruik. (Romeine 11:15-25). Die vrugte van die olyfboom was ‘n belangrike bron van handel in Israel.  Hierdie boom word soms gebruik as ‘n simbool van vrede, voorspoed en rykdom (Ps. 128). Die ekonomiese waarde is verder verhoog deur die feit dat die grond van die groot riviervalleie van Egipte en Mesopotamië nie geskik was vir die verbouing van olywe nie; olyfolie was dus een van Israel se gesogte uitvoerprodukte.  Salomo het vier duisend vier honderd liter van die suiwerste olyfolie aan Hiram gelewer. (I Koning 5:11).

Olyfolie is ook gebruik om profete, priesters en konings te salf.  In 1 Konings 19:16 lees ons dat Elisa as profeet gesalf is, in Levitikus 8:12 word Aäron as priester gesalf en in 1 Samuel 16:13 word Dawid as koning gesalf.

Jy dink miskien jy is nie so belangrik soos enige van hierdie Bybelse karakters nie, maar as Christen is jy ook gesalf – en met iets baie kosbaarder as olyfolie, deur die Heilige Gees. God het sy Heilige Gees op ons uitgestort met die belofte van die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het (Efesiërs 1:18).Soos olyfolie gebruik is in lampe om lig te verskaf sodat mense in die donker kon sien, so verskaf die Heilige Gees lig sodat ons die Waarheid kan sien en ken.

Gebed: Here, dankie dat U my met u Heilige Gees gesalf het, en my vir U uitverkies het. Ek bid dat ek vandag in die lig van u waarheid sal leef en u Naam sal verheerlik. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.