Gedagte vir die dag: Die onvergeeflike sonde

Markus 3:28-29
“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”

Ironies is dit nie? Ons bely ons sondes by Jesus en Hy omhels ons in sy liefde en verseker ons dat Hy al ons sondes, behalwe een, vergewe. Maar dan begin ons terugdink oor al ons sondes. Jesus vergewe ons volkome en verniet, maar dikwels vergeef ons onsself nie. Ons moet al ons sondes van die verlede uit ons gedagtes verban en nie elke keer wat ons in selfbejammering verval, al die ou sondes weer ophaal nie.

Daar is net een onvergeeflike sonde waarteen Jesus ons waarsku.

Sommige skrifgeleerdes het beweer dat Jesus van Beëlsebul (Satan) besete is en dat Hy met die hulp van Satan bose geeste uitdrywe. Jesus werp hulle argument omver. Watter sin het dit om die krag van die Bose te gebruik om die bose uit te dryf? Hoe kan die Satan die Satan uitdrywe? Nee! Jesus word deur die Heilige Gees bemagtig.

Indien ons God wil dien, moet die Heilige Gees in ons harte en aksies wees. Indien ons nie kan onderskei tussen die aksies van die Heilige Gees en Satan nie, dan kan ons ook nie reg of verkeerd onderskei nie. Om die Heilige Gees te verwerp en nie in ons harte toe te laat nie is die een onvergeeflike sonde doen ons dit verloën ons God.

Elkeen van ons het dus ‘n keuse en miskien moet jy vandag, soos Josua van ouds, die uitdaging aanvaar en die keuse maak: “…kies dan vandag wie julle wil dien: …Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Joshua 24:15)

Gebed: Almagtige God deur tekens en wonders het u Seun u heerskappy en krag geopenbaar. Skenk aan ons die krag van die Heilige Gees sodat ons U kan dien en deur ons aksies die Naam van Jesus verheerlik. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.