Gedagte vir die dag: Die palmboom (deel 1) – oorvloed vir die gehoorsames

Eksodus 15:26-27
Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.” Daarna het hulle by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en sewentig palmbome en daar by die water kamp opgeslaan.

Net voordat die Here hierdie bevel uitgevaardig het, het die Israeliete by Moses gekla oor die gebrek aan water. Vir drie dae het hulle sonder water in die woestyn rondgetrek en toe hulle uiteindelik by Mara water vind, was dit bitter. Moses het tot God gebid en Hy het toe vir Moses ‘n stuk hout gewys wat hy in die water moes gooi om dit drinkbaar te maak. Kort na hierdie gebeure kom die Israeliete by Elim aan.

Ons kan iets leer van die sewentig palmbome by hierdie oase waar Israel vir ‘n maand gebly het. Die palmboom groei nie net in die woestyn nie, dit floreer. Dit is grootliks te danke aan sy unieke wortelstelsel wat uit ‘n penwortel wat regaf groei en ‘n network van sywortels bestaan. Die penwortel hou die palmboom stewig geanker in die wind terwyl die sywortels in alle rigtings uitsprei om water te versamel.

Indien ons die Here gehoorsaam, sal Hy vir ons voorsien en ons toerus om in hierdie woestynwêreld te oorleef. Dit sal nie sonder beproewing wees nie, maar die Here het aan ons ons eie oorlewingspakkie gegee – gebed. Wanneer hulle tye van beproewing beleef het, het Israel gekla. Moses het gebid. ‘n Gekerm fokus op onsself, maar gebed fokus op die Here en sy krag. Ons kla omdat ons bang is, gebed is gebaseer op geloof.
Elim met sy twaalf fonteine en palmbome is ‘n teken dat die Here oorvloedig vir Israel sal voorsien as hulle hom gehoorsaam. Die Here sal ook in ons behoeftes voorsien. Al wat ons moet doen is om Hom te gehoorsaam, ‘n verhouding met Hom te hê en die pad saam met Hom te stap.

Gebed: Here leer my om te bid en U te vertrou in moeilike tye. Dankie dat ek ‘n lewende verhouding met U kan hê en dat U altyd vir u kinders sorg. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.