Gedagte vir die dag: Die palmboom (deel 2) – Christus het oorwin!

Johannes 12:12-15
Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Jesus het toe op ‘n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan: “Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom, en Hy ry op ‘n donkie.”

In die antieke tye was die palm ‘n simbool van oorwinning en vrede. Palmtakke is gebruik wanneer ‘n koning of koningin gekroon is, of deur die mense wanneer hulle voor ‘n koning of generaal wat ‘n oorwinning behaal het, verskyn. Die mense in die gedeelte hierbo het egter palmtakke geswaai uit blydskap oor die koms van ‘n nuwe Koning.

Toe Jesus op ‘n donkie in die strate van Jerusalem gery het, was die mense van Israel baie bewus dat hulle land deur buitelanders beset word. Regdeur hulle geskiedenis is hulle gereeld deur ander volke binnegeval. Maar elke keer het God hulle verlos. Op hierdie stadium van hulle geskiedenis was hulle weer op soek na die volgende Josua, die volgende Gideon, die volgende Dawid. Toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, het baie van hulle tot geloof in Hom gekom.

Hy was egter nie die koning wat hulle verwag het nie. Hy het nie ‘n staatsgreep uitgevoer of met ‘n revolusie begin nie. Toe hulle die palmtakke voor hom neergelê het en hom genooi het om hulle koning te word, het Jesus gedoen wat Hy altyd gedoen het – Hy het na die tempel toe gegaan om die mense daar te onderrig.

Alhoewel die mense van Jerusalem miskien teleurgesteld en ontnugter was, het Jesus tog die Heilige Stad as ‘n Koning binnegegaan. Hy sou binnekort ‘n meer kragtige vyand as honderde Romeinse Ryke oorwin. Deur sy dood aan die kruis, sou ons sonde nie langer die skeidsmuur wees wat ons van God skei nie. Dood, die direkte gevolg van ons sondige natuur, is deur die magtige oorwinnaar, Jesus Christus, vertrap.

Gebed: Here, ons aanbid U as Koning, nie met palmtakke nie, maar met ons lewens. Dankie dat in U ons die oorwinning behaal het en dat U ons prinse en prinsesse gemaak het – seuns en dogters van die Koning. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.