Gedagte vir die dag: Die regte pad

actress-wonderful-nick-vujicic-backgrounds-512x7672 Kron 27:6 – Jotam het magtig geword, want hy het sy pad reg gehou voor die Here sy God.

“Dit is tog snaaks dat so min van ons gewillig is om uit die ondervinding van ander te leer. Ons wil maar self ook dieselfde foute maak,” sê iemand. “Die voordeel van ervaring is dat jy jou fout herken as jy dit weer gemaak het,” skerts ‘n ander. Dit is daarom interessant om te lees dat Jotam uit sy pa se foute geleer het. Sy pa het vir hom ‘n goeie voorbeeld gestel, en hy het hom nagevolg in alles wat goed was. Hy het hom egter nie in sy foute nagevolg nie (2 Kron 27:2). “Wat saak maak, is hoe jy klaar maak,” sê Nick Vujicic, ‘n Australiese jongman wat sonder arms en bene gebore is. Hy het sy gebrek aanvaar en die beste daarvan gemaak. Vandag is hy ‘n kragtige evangelis wat vir duisende mense op ‘n slag tot seën is. Ons het tot dusver gelees van konings wat goed begin het, maar langs die pad uitgesak het. Jotam is een van die min wat enduit volgehou het. Al sy prestasies, sy bouwerk en sy militêre oorwinnings, was nie vir die Bybelskrywers so belangrik as die feit dat hy goed klaargemaak het nie.

Ons het net een lewe. Jy sal vandag net een keer beleef. Maak dus die beste daarvan. Jy het seker planne vir vandag. Sal dit jou help om sterk te eindig? Kom ons wy onsself aan die Here toe, om Hom van vandag af elke dag van ons lewe te dien.

Gebed: “Here, ek wil U vandag en elke dag heelhartig dien.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.