Gedagte vir die dag: Die reis na buite, ook ʼn reis na binne

 Handelinge 18:24 – Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

Die besluit om ʼn beroep na Japan aan te neem was enersyds maklik. Dis ʼn besonder ordelike samelewing waar elkeen sy plek ken en oordrewe hoflikheid aan die orde van die dag is. Treine ry op tyd en die strate is silwerskoon want niemand eet op straat nie so daar is nie nodigheid vir vullisdromme nie.

Die kerk waarheen ons beroep is, is ʼn Engelstalige gemeente in die Gereformeerde/Lutheraanse tradisie wat al 140 jaar bestaan. Die gemeentelede kom uit al vier windrigtings van die aardbol maar meestal uit Australië, die VSA, Korea, Europa en die Filippyne. Daar is ook heelwat westerlinge wat met Japannese getroud is en deel wil bly van hulle Christelike tradisie. Gelukkig is daar ʼn paar Suid-Afrikaners ook wat hulle unieke bydrae maak.

Wat ʼn mens opgeval het in die kort tydjie wat ons hier woon, is die absolute toewyding wat die lidmate aan die dag lê in die gemeente. Dit sê egter nog nie hoekom ons besluit het om hierheen te kom nie. As ek moet sê dan is dit eerstens dat ons ten spyte van ons “bejaardheid” nog nie ons avontuurlustigheid prys gegee het nie (hierin is die ou man Paulus ook vir ons ʼn voorbeeld. Ten minste het ons geriefliker gereis as arme Paulus). Maar meer as dit, so ʼn reis na buite, bring jou altyd terug na binne – waar jy opnuut kyk na wat daar in jou hart en in jou siel leef. Dit bied ʼn geleentheid om buite die geykte tradisies en gebruike die Christelike geloof te herontdek as die een geloof wat die wêreld sonder grense omspan, sonder aansiens van persoon. Jy hoef nie wierook te brand, die voorvaders te eer, jou fortuin uit ʼn laaitjie by ʼn Boeddhistiese tempel te gaan soek of muntstukke in ʼn fontein vol heilige water te gooi om die guns van die gode te wen nie. Jy is vry – vry om lief te hê en vry om te vergewe omdat God jou eerste liefgehad het en omdat Christus jou sondes vergewe het en jou onvoorwaardelik as sy kind aangeneem het. Maar meer as dit lê die uitdaging daarin om in ʼn samelewing wat op die oog af so ordelik en amper sonder sonde blyk te wees, die uniekheid en die vryheid van die Christelike geloof te verkondig en uit te leef.

Gebed: Vader, U lei ons soms op paaie waarop ons nie sou loop as dit nie vir omvattende genade vir alle volke en nasies was nie. Maak ons bewus van ons roeping tuis of op ver paaie heen. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.