Gedagte vir die dag: Die sederboom: Deel 1 – Gee aan God jou beste

2 Samuel 7:1-2 – Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ‘n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ‘n tent.”

Die hout van die seders van Libanon is sterk, reguit, met ‘n heerlike geur en om dié redes baie gesog in antieke tye.  Dit was altyd die eerste keuse wanneer ‘n tempel of paleis gebou moes word, en daar is ten duurste daarvoor betaal.  Hierdie bome het gehelp dat die Fenesiërs ‘n belangrike plek onder die nasies beklee het, en dit het die simbool geword waaraan hulle en hulle afstammelinge geken is.  Vandag kom die seder steeds op die Libanese vlag voor.

Die waarde van die seder is baie duidelik in die Bybel – Dit word talle kere genoem. Wanneer mense iets waardevol besit het, is daar ‘n kis van sederhout gemaak om dit in te bewaar. Mense se kosbaarste besittings is in ‘n sederhoutkis bewaar. Huise in die tyd van Dawid is van klip gebou, maar het baie gelek. Arm mense moes maar die nattigheid verduur, maar ryk mense het hulle huise met sederhout geïsoleer wat daartoe gelei het dat hulle huise so dig soos ons moderne huise was.

Om dié rede kon Dawid te midde van sy rykdom sê: “Kyk, ek woon in ‘n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ‘n tent.” Hy het verwys na sy paleis wat met sederhout geïsoleer was. Wat hy eintlik gesê het was: “My huis is selfs beter as dié van God. Ek gee nie vir God die beste nie.”

Dink na oor jou eie lewe. Gee jy vir God die beste?

Gebed:
Here, vergewe my dat, ten spyte daarvan dat al die eer U toekom, ek U soms in ‘n tent laat woon, terwyl ek in ‘n huis versier met sederhout woon. Dankie vir U genade en dat U my daaraan herinner dat alles wat mooi is van U alleen kom. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.