Gedagte vir die dag: Die sederboom: Deel 2 – groei boontoe, sywaarts en afwaarts

Esegiël 31:1-7 – Wie het soveel mag gehad as jy? Daar was Assirië, die seder op die Libanon. Sy pragtige takke het hulle skaduwee oor die bos gegooi. Die seder het hoog gegroei, sy top was tussen die wolke. Die water het hom groot laat word, die onderaardse waters het hom ‘n hoë boom gemaak. Groot strome water het om hom geloop, en van hom af stroompies na al die ander bome toe. Hy het hoër as al die ander bome geword, sy takke meer en langer van al die water in die leivore. Al die voëls het kom nes maak in sy takke, onder hom het al die wilde diere hulle kleintjies in die wêreld gebring en in sy skaduwee het al die baie nasies kom woon. Hy was ‘n mooi en ‘n groot boom met wydgespreide takke, want sy wortels het tot by baie water gekom.

Gister het ons ‘n bietjie gepraat oor die waarde van die seder. In vandag se gedeelte is daar drie dinge oor hoe die seder groei waarop ons kan let.

Seders groei AFWAARTS
‘n Seder se penwortel groei diep in die grond op soek na water en dit anker die boom. Numeri 24:6 vertel ons dat Israel soos sederbome by die water is. Paulus spoor die Efesiërs aan om in die liefde gewortel en gegrondves te wees en in Kolossense 2:6-7 lees ons: Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul.

Seders groei BOONTOE
Seders kan so hoog as 40 meters word! As Christene loop ons op die aarde, maar ons koppe behoort “tussen die wolke” gerig op Christus te wees. Die Amerikaanse digter en skrywer, JG Holland, het op ‘n keer gesê: “God, give us men, tall, sun-crowned, who live above the fog.”

Seders groei SYWAARTS
Die takke van die seder groei sywaarts en is wyd uitgesprei. Hierdie uitgespreide takke bied dikwels skuiling teen die elemente. Moet ons nie soos die takke van die seder uitreik na ander en hulle behoeftes nie?

Gebed: Here, laat my lewe geanker wees in u Woord, laat ek op die hemelse dinge fokus en my arms uitreik na diegene rondom my. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

“Laat ons uitreik na diegene rondom ons” ja, na al die armes en sorgbehoewendes. Dis uiting van die eerste gebod – liefde teenoor God en ons Naaste !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.