Gedagte vir die dag: Die sederboom: Deel 3 – Die Here is my rots, Hy maak my sterk en mooi

Psalm 92:13-16 – Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God. Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees. So sal blyk dat die Here regverdig is, dat daar by Hom geen onreg is nie. Hy is my rots.

Toe ons met hierdie kort reeks oor bome in die Bybel begin het, het ons gekyk na die boom wat in Psalm 1:3 beskryf word, waar Christene vergelyk word met ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Ons het geleer dat, soos daardie boom, ons vrugte sal dra en dat ons blare nie sal verdroog nie. Ons het ook geleer dat met God as ons tuinier ons voorspoedig sal wees in alles wat ons aanpak.

‘n Paar dae gelede het ons gepraat oor hoe, in bybelse tye, wanneer daar iets gebou moes word wat baie lank moes hou, en sterk en mooi moes wees, die seders van Libanon gebruik is.

So dit is nie per toeval dat in Psalm 92 daar gesê word dat God ons soos die hoë seders van Libanon sal maak nie. Die skrywer het nie net sy gunsteling boom gekies nie. Hy het ‘n simbool vir prag en krag gekies; hy het die boom wat in die bou van die tempel gebruik is, gekies. Wanneer die Psalmdigter sê dat ons soos die seders van Libanon sal wees, sal almal wat die Psalm hoor weet: “Die Here sal my sterk en lewenskragtig maak. Seders is die pilare van die tempel, en Hy wil my ‘n pilaar in sy koninkryk maak, iemand wat sterk in die geloof staan. Net soos die seders wat gebruik is om die tempel te bou, so wil God my gebruik om sy koninkryk te help bou.”

Gebed:Here, maak my soos die seders van Libanon, vol lewenskrag, immergroen, ten spyte van die koue wintersneeu. Vader, U is my rots, en dit is slegs deur U wat ek kan leef om u Naam te prys. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.