Gedagte vir die dag: Die sipresboom – ‘n Volmaakte tuiste

Psalm 104:16-18
Die bome van die Here, die sederbome
wat Hy op die Libanon-berg geplant het,
kry meer as genoeg reën.
Die voëls maak hulle neste daar,
die ooievaar bou sy nes daar in die sipresbome.
Die hoë berge is ’n huis vir die klipbokke,
die rotse is veilige plekke vir die dassies.

Psalm 104 is ‘n lofpsalm wat die glorie van God besing en vertel hoe Hy vir sy skepping voorsien, ook vir die ooievaar.

Die naam van die ooievaar in Hebreeus beteken “heilig” en “vriendelik” afgelei van die wonderlike manier hoe ooievaars vir hulle kleintjies omgee. Die wonderlike ouerskap van ooievaars plaas die sipresboom van Psalm 104 in ‘n ander lig, want vir ‘n ooievaar wat na haar kleintjies omsien, sal net die veiligste boom goed genoeg wees om ‘n tuiste in te skep.

Dit is vreemd dat volgens die seremoniële wette (Levitikus 11:19) die ooievaar onrein is en die Israeliete verbied word om hierdie voël te eet. As Christene is ons egter net soos hierdie ooievaar in die sipresboom. Ons is van nature onrein, maar deur die genade van God is dit vir ons moontlik om deur die geloof ons tuiste in Christus te maak. In Hosea 14:9 praat God met Israel en sê: “Ek is soos ’n sipresboom wat altyd groen blare het. Dit is Ek wat julle sal laat lewe.”

Christus is ons sipresboom, ons volmaakte tuiste, en in Hom het ons alles wat ons nodig het.

Gebed: O Heer, U is geklee met grootsheid en majesteit, en nogtans voorsien U vir my alles wat ek nodig het. Here, laat my vandag in U woon. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.