Gedagte vir die dag: Die Skepper is groter as die Skepping

Skrifgedeelte: “Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee” (Matt 14:19).

Die wonderwerk van die vermeerdering van die brood en vis was inderdaad groot en dramaties – dit is die enigste wonderwerk waarvan al vier die Evangelies vertel. Dink mooi na oor wat werklik hier gebeur het: Jesus het as ’t ware die tyd en die hele proses waardeur koring of gars moet gaan totdat mense met brood in die hand kan staan – die saad wat in die grond gesaai word, wat ná maande geoes, uitgewan en tot meel gemaal word, die deeg wat aangemaak en in die oond gebak word – in ʼn paar oomblikke saamgepers. ʼn Proses wat normaalweg agt tot nege maande sou duur, het Hy in ʼn paar oomblikke laat plaasvind.

Hieruit kan ons leer dat God inderdaad beheer oor die natuur het. Hy het die natuur en sy wette geskep, en Hy gebruik dit. Maar God is ook groter as die natuur. Wanneer Hy ’n doel wil bereik, kan Hy die wette van die natuur ophef en ook daardeur sy doel bereik. Die digtheid van yster is hoër as dié van water, maar wanneer die profeet bid, kan die Here ʼn byl op die water laat dryf.

Ons mag nooit dink dat die Here aan sy skepping onderworpe is nie. Die Skepper is groter as sy skepping. En die wetenskap met sy wette vorm deel van God se skepping. God is vír die wetenskap, maar Hy is nie daaraan onderwerp nie. Hy gebruik die wetenskap en werk daardeur – maar Hy is veel méér as wetenskap en natuurwette. God praat altyd laaste!

Gebed: “Ek bely dat U die Skepper en Heer van die hele skepping is, Here my God”. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.