Gedagte vir die dag: Die sout vir die aarde

Matt. 5:1 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit”.

Jesus het in sy Bergrede daar langs die See van Galilea groot en belangrike lewenswaarhede en koninkryksbeginsels vir ons gegee. Een van die belangrikste dinge wat Hy ooit vir die kerk of vir die individuele gelowige gesê het, is hierdie woorde: “Julle is die sout vir die aarde.”

Ongelukkig het die kerk oor die jare heen grootliks hierin gefaal – ook hier in Suid-Afrika. Deur die eeue heen het ons onder meer die volgende tendense in die kerk gekry. Die kerk en individuele gelowiges het hulle dikwels van die wêreld afgesny en geïsoleer. Die kerk het “laer getrek” of ʼn “klub” gevorm. Dit is nie waarvoor Jesus ons gered en geroep het nie. Om só kerk te wees, is dieselfde as sout wat nooit die houer verlaat nie. Dit het geen effek nie.

Dan was daar die tye, veral gedurende die Middeleeue, toe die kerk mense deur geweld en met wette tot ʼn kerklike lewenswyse wou dwing.

Die derde tendens wat dikwels voorgekom het, is dat die kerk in die wêreld opgeneem is en die sondige en wêreldse beginsels en waardes in sy geledere toegelaat het. Miskien was dít die enkele grootste vyand en gevaar deur die eeue heen – hierdie verwêreldliking van die kerk. Daar was ʼn tyd vroeg in die kerk se geskiedenis dat die kerk so diep en radikaal in die wêreld ingedring het dat dit die wêreld geskud en verander het. Vandag het die wêreld in baie gevalle die kerk so diep ingedring dat dit die kerk neutraliseer en lamlê. Dít is waarna Jesus verwys wanneer Hy sê die sout het laf geword; dit het verslaan; die kerk het haar betekenis verloor.

Gebed: “Ek wil vandag vir u kerk, waarvan ek deel is, bid sodat ons waarlik die sout vir die wêreld sal wees. Amen.”

 Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.