Gedagte vir die dag: Die veilige anker

Joh 14:1-“Julle moet nie onsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My”.

Hierdie woorde van Jesus kry nog meer betekenis wanneer ‘n mens daaraan dink dat Hy in daardie oomblikke self hewig ontsteld was omdat Hy geweet het een van sy dissipels sou Hom verraai (Joh 13:21). Die gekwelde en gefolterde Heiland, met die kruis wat op Hom wag, troos egter ander. Was daar ooit ʼn liefde en selfverloëning soos Syne?

Om onsteld te wees is deel van ons aardse bestaan. Mense raak om verskillende redes ontsteld – sommige mense makliker as ander. Daar is so baie dinge in verskillende fasette van ons lewe wat ons omkrap, wat ons deurmekaar, onseker, verward, onrustig en bang laat word. Wat ons laat voel soos ‘n blaar wat deur ‘n kolkende stroom meegesleur word. Dit kan gebeur weens gebeure en omstandighede in ons huis en huwelik, by die werk, in die wêreld; dit kan persoonlike probleme wees of misdaad… noem maar op.

Mense kan maklik sê: “Moet jou nie ontstel nie.” Maar waarom nie? Jesus sê ook vir ons dat ons nie onsteld moet wees nie, maar Hy gee vir ons die ware rede waarom nie: “Glo in God; glo ook in My” (Joh 14:1). Geloof, kinderlike vertroue in God, is die grootste rede waarom ek en jy maar kan ontspan. Dis die één reddingstou wat sal hou al sou al die ander breek. Dis die één anker wat nie sal gly wanneer die storm hewiger word nie.

Daar is baie ander dinge waarin jy jou vertroue kan stel, en baie daarvan sal in sekere omstandighede en ‘n tyd lank selfs genoegsaam wees. Daar kom egter tye wanneer alle menslike vermoëns en middele ontoereikend sal wees en sal misluk. En dit is in sulke tye dat dit wonderlik is om God te ken en in Hom te glo.

Gebed: Dankie vir die belofte dat niks en niemand my ooit uit u hand sal kan ruk nie, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger (President van die AGS van SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.