Gedagte vir die dag: Die vyeboom (deel 1) – Bly soet

Jakobus 3:9-12
Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. ‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

Vye is bekend vir hulle soetheid. Sowat 50% van ‘n vy bestaan uit suiker en dit is deur die eeue as ‘n plaasvervanger vir suiker gebruik. Die Assiriërs het reeds in 3000 vC vyestroop as ‘n versoeter gebruik, ‘n gebruik wat tot in die Middeleeue voortgeduur het. Toe suiker gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog skaars geraak het, het vyestroop weer sy verskyning gemaak.

In Rigters 9:11 lees ons: Maar die vyeboom sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee? Moet ek tussen die bome gaan ronddwaal?’

Om lief en dierbaar (soet) te wees kom nie van nature by die mens nie. Hierdie vyeboom was tevrede om net te groei en sy soet vrugte te dra, maar ons wil elke geleentheid aangryp om onsself te bevorder. Soms gee ons ook nie om op wie ons trap om daar te kom nie. Ons is nie tevrede om net te groei en soet vrugte te dra nie, en hoe moeiliker omstandighede raak hoe moeiliker is dit om lief en dierbaar te bly.

‘n Vyeboom kan nie olywe dra nie want dit is ‘n vyeboom. Dit is so ooglopend.  Hoekom is dit dan so maklik vir ons om te leef asof ons nie kinders van God is nie?

Om ‘n Christen te kan wees wat soet vrugte dra is dit nodig om ons aan die Woord van God bloot te stel.

Gebed: Here, laat ek so diepgewortel wees in U dat ek tot seën sal wees vir almal met wie ek in aanraking kom. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.