Gedagte vir die dag: Die vyeboom (deel 2) – Wees waaksaam!

Markus 13:28-33
Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby.  So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur.  Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit. Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie.

Soos die vyeboom ons daaraan herinner dat die somer kom, so het Jesus sy dissipels (en ook vir ons) herinner dat Hy weer gaan kom. Die vroeë Kerk het egter geglo dat Jesus nog in hulle leeftyd sou terugkeer. Hierdie gedeelte in Markus verseker hulle, en ons, dat niemand die presiese datum van sy wederkoms ken nie.  Vroeër vanjaar het Harold Camping Christus se wederkoms vir 21 Mei voorspel – natuurlik het dit nie gebeur nie. Baie mense het reeds probeer om die datum van die wederkoms van Christus te voorspel, en hulle was almal verkeerd.

Geskiedkundiges vertel ons dat die vroeë Christene mekaar gegroet het met die woorde: “Hy het opgestaan,” en wanneer hulle afskeid neem met die woorde: “Die Here kom weer.” Deur hierdie woorde het hulle mekaar bemoedig en voortdurend daaraan herinner dat hulle deur Christus verlos is en dat Hy weer sal kom. Ons voel bemoedig wanneer ons die bloeisels aan die bome sien, want dan weet ons die somer is amper hier en die koue, donker dae van die winter is verby. Ons weet dat Jesus weer sal kom – so kom ons bemoedig mekaar vandag om waaksaam te wees en uit te sien na dié dag wanneer Christus weer gaan kom en alles nuut sal maak, net soos die vyeboom.

Gebed: Here, dankie vir die troos van u ewige Woord. Here Jesus, baie dankie dat ons nie hoef te wag vir ‘n dag in die toekoms om die heerlikheid van u teenwoordigheid te ervaar nie, maar dat ons dit elke dag van ons lewens kan ervaar. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.