Gedagte vir die dag: Die waarheid gee lig

ligPs 43:3 – Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning!

“Ons broer het 25 jaar terug van hom uit Kanada laat hoor, en ons was seker dat hy dood is. En nou het hy weer kontak gemaak. Hy het intussen tot bekering gekom en is besig om vir pastoor te leer.” Die briefie uit Sjina was vol blydskap. Hulle het uitgesien daarna om weer met dié broer verenig te word, en die Here te loof! In sy afwesigheid het die hele gesin, ouers inkluis, die Here gevind en hulle is nou voltyds in sy diens. Die dissipels het seker ook so gevoel toe hulle hartseer en verslaenheid op hierdie Sondag deur die waarheid en die lig ingehaal is. Jesus is nie meer dood nie. Hy lewe weer! Die graf is leeg! Van die gelowiges het Hom gesien en aan Hom geraak! Uit die diepste duisternis het daar nou weer helder lig geskyn. Nou kan hulle weer vir Jesus persoonlik ontmoet en na sy Woord luister. En Hy het hulle belowe dat Hy met hulle sal wees tot by die einde van die wêreld (Matt 28:20). Hierdie belofte geld ook vir ons, en Hy tree vir ons in. (Rom 8:34). Paasfees gaan nie eintlik oor paaseiers en paashasies nie. Dit is wel simbole van nuwe lewe, maar die grootste nuus is dat Jesus weer lewe, en dat daar daarom vir ons ook sekerheid is. Ons dood is nie die einde nie. Dit is net die begin van ʼn nuwe hoofstuk. En ons sal ook weer lewe. Daar wag vir ons ook ʼn opstanding (Op 20:12).

Gebed: Lewende Here Jesus, dankie dat U u lig en u waarheid aan ons gee om ons vir elke dag van die week te versterk.

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.