Gedagte vir die dag: Die waarheid in liefde

Luk 7:40-41 –  “Maar Jesus spreek hom aan en sê: ‘Simon, Ek het iets om vir jou te sê.’ ‘Meneer, sê dit maar!’ antwoord hy. Jesus sê toe: ‘Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig”.

Daar is geen manier hoe jy dít wat in jou hart broei vir God kan wegsteek nie. Jesus het geweet wat Simon vir homself gesê het en Hy spreek hom direk aan. Op ʼn vriendelike en bedagsame, maar tog eerlike en reguit manier, vermaan hy die Fariseër – sommer in sy eie huis.

Om reguit te wees sonder om onbeskof te wees, om eerlik te wees sonder om liefdeloos oor te kom – dít is iets waarin ons nie altyd slaag nie. Efesiërs 4:15 sê ons moet in liefde by die waarheid bly. Party mense is taktloos en liefdeloos en vra dan dat ons hulle maar moet verskoon, “want hulle is maar reguit mense”. Waarheid wat nie in liefde uitgespreek word nie is egter soos om sonder narkose ʼn operasie op iemand uit te voer.

Aan die ander kant skram ons dikwels van liefdevolle vermaning weg omdat ons bang is ons sal aanstoot gee of dalk ʼn vriend verloor. Daar ís tye om stil te bly, ja, maar daar is ook tye om te praat. Om dán stil te bly, help niemand nie – allermins die een wat teregwysing en vermaning nodig het.

Jesus het nie later agteraf oor Simon gepraat nie, maar direk met Simon self. Gelukkig was Simon oop vir Jesus se inspraak: “Meneer, sê dit maar!” (Luk 7:40). Dan praat Jesus met Simon deur ʼn gelykenis, ʼn beeld. Met hierdie gelykenis wys Hy vir Simon dat Hy nie net hierdie vrou ken nie, maar ook vir hom wat Simon is.

Gebed: “Laat die waarheid wat ek praat altyd in liefde verpak wees, Here. Amen.”

Outeur: Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.