Gedagte vir die dag: Die waarheid…ongeag

Eksodus 20:16Jy mag nie vals getuienis gee nie.

In ’n ideale wêreld sal ons nooit hoef te wonder of iemand betroubaar is nie. Maar ons lewe in ’n stukkende en gebroke werklikheid wat op die oog af verder disintegreer. Hoe nou gemaak?

Elkeen kan die verskil maak. Ons kan die ideale nastreef. En ons hoef klein te begin. In ons huise tussen ons eie mense. Daar waar dit soms die moeilikste is, maar waar die saadjies wat ons plant, begin ontkiem:

• Jou kinders hoef nie te jok wanneer die foon of voordeurklokkie lui en jy nie lus is vir mense nie…
• Wanneer jy belowe om iemand te bel, te besoek of vir hulle te bid, maak ʼn punt daarvan om dit na te kom…
• Jou kinders kan aanspraak maak op jou aandag en tyd, en hulle weet instinktief dat ‘later’ eintlik beteken ‘nooit’. Bewys hulle verkeerd.
• As jy sê dat jy jou maat liefhet, bewys dit met jou dade.
• Wanneer gefaal of gefouteer het, erken dit ruiterlik en begin die skade herstel…

Ons werkplekke kan die teelaarde word waar vertroue ingeboesem kan word:
• Weet ons werknemers dat ons nie net op winste ingestel is nie, terwyl ons sê dat hulle ons grootste bate is?
• Kan die publiek weet dat elkeen wat ’n eed van getrouheid afgelê het nie korrup, mags- en geldbehep geraak het nie?

Wie kan ons glo? Hoe kan ons mekaar weer help glo en vertrou?
• Bou op die Bybelse waardes. Dit kweek waarheid, integriteit en eerlikheid te alle koste.
• Bou aan jou eie verhouding met die Here. Hy is die waarheid.
• Kry ʼn mentor wat jou help monitor. Ons moet mos daar wees vir mekaar.
• Ondersteun mekaar en spreek mekaar aan, wanneer nodig, al is dit hoe ongemaklik!

Die Psalmdigter sê dit so mooi in die Afrikaanse Bybel vir Almal: Here, U doen wat U belowe het (Ps. 18:26). Hoe wonderlik sal dit wees as dit ook van ons gesê kan word as ouer, werkgewer, werknemer, politikus, landsburger…..

Gebed: Here, maak my betroubaar in wat ek sê en doen. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Integriteit het ‘n rariteit geword ! Mag ons genade en krag van God ontvang om weer eerlikheid en betroubaarheid te vestig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.