Gedagte vir die dag: Die wingerdstok – gesnoei deur die Woord van God

John 15:1-4: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

As jy tuinmaak geniet, sal jy weet hoe belangrik dit is om te snoei. Wat die wingerdstok betref, is dit absoluut noodsaaklik dat dit gesnoei moet word. ‘n Wingerdboer sal jou kan vertel dat slegs die nuwe lote aan die wingerdstok druiwe sal dra; en dat dit noodsaaklik is om die wingerd te snoei ten einde goeie kwaliteit druiwe te verseker.
Soos dit nodig is vir die wingerdboer om die wingerd te snoei, so is dit nodig vir ons Hemelse Vader om ons te “snoei” sodat ons kwaliteit vrugte kan dra. Hy vind ‘n loot wat vrugte dra en hy snoei dit reg sodat dit nog meer vrugte kan dra. Die Here sny die siek en dooie hout uit ons lewens uit.

Die Woord van God is die snoeiskêr wat Hy gebruik om ons te snoei. Ons lees meer hieroor in Hebreërs 4:12: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. ” Snoei is ook nie iets wat net een keer gebeur nie – dit gebeur jaar na jaar.

Het jy onlangs die pynlike snoeiproses ervaar? Die Here werk daaraan om alles in ons lewens wat ons verhoed om soos Christus te wees, te verwyder. Noukeurig sny hy die griewe, bitterheid, woede, selfsugtigheid, selfgerigtheid en arrogansie uit ons lewens, om plek te maak vir liefde, vreugde, minsaamheid, getrouheid en selfkontrole sodat ons kan groei en floreer.

Gebed: Dankie Vader dat U my snoei. Ek bid dat U sal voortgaan om die gewoontes, houdings en gedrag wat moet sterf, weg te sny, sodat, deur die krag van Jesus, ek meer vrugte vir U kan dra. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Hoe verfrissend, verrykend en rigtinggewend bly die dagstukkie tog maar in ons daaglikse lewe – ‘n ware kompas maar andersyds ook ‘n vertroosting in ‘n deurmekaar-wêreld waarin ons leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.