Gedagte vir die dag: Dien die enigste God met oorgawe

Psalm 16:2,3 – Ek het vir die Here gesê: U alleen is my Heer. U is die heel belangrikste in my lewe. Ek is deel van ʼn skare mense wat U dien en eer. Ek is bly as ek tussen hulle is. Maar daardie mense wat dooie gode dien se hartseer word by die dag net groter.

Die grens aan skrikwekkend om te sien wat die waardestelsel is waarvolgens volwassenes vandag leef. Geld en besittings – baie daarvan en die opgaar daarvan – is ʼn belangrike deel daarvan. Die tragedie van ʼn skewe waardestelsel is dat dit aan jongmense en kinders oorgedra word. Hoë stresvlakke, maagsere, hartaanvalle en ander siektetoestande het alles met hierdie skewe waardestelsels te doen. Sonder dat jy dit agterkom word van die goed vir jou ʼn afgod. Ja, jy bou geen beeld nie en buig voor geen ornamente nie. Maar, en dis dalk erger, die meeste van jou tyd, passie en energie gaan in dinge wat vir jou belangriker as die Here is. Dis niks anders nie as afgodery in die tyd waarin ons leef. Daar is slegs by God vervulling. ʼn Vrede wat alles verstand te bowe gaan, is slegs te kry by God. Daar is slegs by God verlossing en vrymaking. Afgode bind jou in kettings en steel jou vryheid en vrede. Daarom is dit so dwaas om God nie as die enigste God te erken nie. Dit is so wys om Hom eerste in jou lewe te stel en Hom bo alles lief te hê en te dien.

Gebed: Here, ek erken U as die enigste God. Ek kies om U eerste in my lewe te stel en U alleen te volg.

Dit waaraan jou hart vasklem, dit waarop jy die diepste vertou – dit is jou god. – Martin Luther

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.