Gedagte vir die dag: Dien in geloof

Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: … jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar ‘n vrou gaan haal vir my seun Isak.” Genesis 24: 1-2 & 4

Dit is nie ‘n maklike opdrag wat Abraham vir sy dienskeng gegee het nie. Hy vra sy dienskneg om honderde kilometers na sy geboorteland te reis en ‘n vrou vir sy seun Isak terug te bring. Abraham het ook ‘n aantal streng vereistes gestel: Die vrou moet nie ‘n Kanaäniet wees nie, maar ‘n familielid, en Isak moet nie saam met die dienskneg na Abraham se geboorteland reis nie. Hy laat selfs sy dienskneg ‘n eed oor die saak aflê. Die dienskneg vra geen vrae nie en hy probeer nie om Abraham van die opdrag te laat afsien nie, alhoewel hy seker rede gehad het. Dink net, watter pa sal sy dogter toelaat om saam met ‘n vreemdeling deur die woestyn te trek om met ‘n ander volkome vreemdeling te gaan trou?

Maar hierdie dienskneg, wie se naam nie eers in die gedeelte genoem word nie, aanvaar sy opdrag beleef en met nederigheid. Dit was na alle waarskynlikheid ‘n onmoontlike taak met geen duidelike oplossing nie, maar hy vertrou God. Voordat hy nog begin soek na ‘n vrou vir Isak, bid hy om leiding. En verder bid hy vir die regte vrou vir Isak. Die dienskneg bid dat ‘n meisie na die fontein sal kom wat nie net vir hom water sal gee om te drink nie, maar ook vir sy kamele. Hy soek na ‘n vrou met ‘n hart wat bereid is om te dien, ‘n vrou wat bereid is om meer as wat van haar verwag word, te doen. Hy vind so ‘n vrou in Rebekka.

Die verhaal lui verder dat Abraham se dienskneg gekniel en die Here geloof en vir sy troue liefde gedank het (Genesis 24:26-27) en Rebekka het gewillig haar familie en gemaklike lewe verlaat om in ‘n nuwe land by ‘n nuwe gesin te gaan bly. Wat ‘n wonderlike les van getrouheid en nederigheid leer ons by haar en die dienskneg. In die lewens van beide hierdie persone sien ons geloof, diensbaarheid en liefde vir ander. Wat ‘n voorbeeld vir ons!

Gebed: Dankie Hemelse Vader vir die voorbeeld wat Abraham se dienskneg en Rebekka aan ons stel en wat ons aanmoedig en inspireer om ter wille van ander ons beste te gee, selfs meer as wat van ons verwag word. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.