Gedagte vir die dag: Dis tyd om te bid

praying-in-successSag 10:1 – Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom.

“Dit is opmerklik dat die Here elke keer ‘n magtige herlewing stuur wanneer dinge op hulle donkerste lyk,” vertel ‘n besoekende leraar by ʼn herlewingsbiduur. “Maar dit is ook so dat Hy elke keer sy kinders aan die bid sit voor die herlewing uitbreek. Dit lyk as of Hy ons almal deel van sy wonderlike werk wil maak.” In vandag se gedeelte sê die Here deur Sagaria dat Hy van plan is om ‘n groot reën te gee. Die mense sal besef dat hulle op die verkeerde dinge vertrou het. Daar gaan wonderlike dinge gebeur. Maar ons moet nie sommer net agteroor sit en dink dinge sal vanself regkom nie. Elkeen van ons het ʼn rol om te speel. Al is dit tyd vir verandering, wil die Here nog steeds hê dat ons die nodige kniewerk moet doen. Kyk net na al die beloftes wat die Here in vandag se gedeelte aan sy volk gee. Hulle sal sterk wees as die Here met hulle is. Daar gebeur wonderlike dinge as die Here se kinders begin bid. Die sokkerwêreldbeker van 2010 was ‘n groot sukses, en misdaad het ʼn laagtepunt bereik. As jy dink dit was omdat ons so oulik is, dan vergeet jy van die honderde bidure oor die lengte en breedte van ons land. Sommige van hulle was kettinggebede wat 24 uur per dag en sewe dae per week aangehou het. Ons kan gerus vir God al die eer gee. Maar daardie soort gebede kan ook nou nog ‘n reuseverskil maak. Kom ons maak werk daarvan.

Gebed: “Here, leer my om so te bid dat daar dinge begin gebeur. Ek kan nie,maar hier is ek – kom bid U deur my.”

Bron: Uit die Beek-Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.