Gedagte vir die dag: Dit betaal om God te dien

Skriflesing: “Maar Jesus sê vir hulle: ‘Hulle hoef nie weg te gaan nie …’” (Matt 14:16).

Daar is ʼn pragtige beginsel verskuil in hierdie woorde van Jesus: “Hulle hoef nie weg te gaan nie.” Vir dié wat na Hom toe kom, sou Hy sorg. Hy sou dit nie vir hulle onnodig duur maak om by Hom te wees nie. Trouens, die skare het daardie dag gespaar deur by Jesus te wees – hulle sou ʼn gratis ete van vis en brood kry!

​Dis effens anders as waaraan ons gewoond is by vandag se groot evangelisasie- en genesingsdienste. Dáár word dikwels groot offerandes van mense verwag en by hulle opgeneem. Jesus het nie gevra nie; Hy het net gegee.

​Elke mens wat ʼn volgeling van Jesus is, spaar egter. Jy vra dalk nou: Wat bedoel jy met “spaar”? Kom ek probeer verduidelik: Hoe betaal ʼn mens vir die ware vrede en diepe vreugde en vervulling wat jou deel word wanneer jy Jesus volg? Kyk net hoeveel geld ongelowiges dikwels spandeer om vir hulle bedenklike plesier en genot in hierdie lewe te koop. Ek het net nou die dag gehoor hoe ʼn paar manne by mekaar spog oor hoeveel geld se drank hulle die naweek weggeslaan het. En al wat hulle daarvan oorgehou het, was skandes en ’n groot hoofpyn.

​Wanneer ons as gelowiges ʼn verantwoordelike en Bybelse leefstyl handhaaf, lei dit gewoonlik daartoe dat ons fisiek ook veel gesonder is. En sonder dat ons dit werklik besef, spaar ons ʼn klomp onnodige mediese onkoste. ʼn Gesonde gees hou duidelik verband met ʼn gesonde liggaam, en só word kwaliteitjare by jou lewe gevoeg. By my is daar geen twyfel nie dat ʼn leefwyse wat gebaseer is op die beginsels van die koninkryk van God jou groot bedrae geld in die verloop van jou lewe spaar.

Gebed: “Maak my bewus van die seën wat ek ontvang deur by U te wees, Here”. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.