Gedagte vir die dag: Dit is wel!

praying-handsRomeine 8:37-39: Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Horatio Spafford (1828-1888) was ‘n ryk Chicago resgeleerde met ‘n vooruitstrewende regspraktyk, ‘n pragtige huis, vrou, vier dogters en ‘n seun. Hy was ook ‘n Christen wat die Bybel getrou bestudeer het.

Te midde van al hierdie finansiële en professionele welvaart, het Horatio en sy vrou hulle jong seun tragies verloor. Kort hierna, op 8 Oktober 1871, het die groot Chicago brand feitlik elke eiendomsbelegging wat Spafford besit het, vernietig. Indien jy dalk onlangs die boek Job in die Bybel gelees het, mag jy dalk dink dit klink alles te bekend.

In 1873, het Spafford ‘n bootreis gereël om vir sy vrou, Anna, en hulle dogters ‘n broodnodige vakansie te gee om hulle te help om van al hierdie tragiese gebeure te herstel. Sy vrou en dogters het voor hom vertrek aangesien hy nog sake gehad het om af te handel. ‘n Paar dae later is hy in kennis gestel dat die skip in ‘n botsing betrokke was. Ons kan sy lewe nog verder met dié van Job vergelyk. Al vier sy dogters het verdrink en net sy vrou het oorleef. Spafford het onmiddellik ‘n boot gehaal om hom na sy treurende Anna in Londen te neem. Dit was tydens hierdie reis dat hy die volgende woorde neergeskryf het:

As vrede my pad deur die wêreld verlig,
as smarte my dreig te verniel,
dan antwoord ek vry, watter lot my ook tref:
dit is wel, dit is wel met my siel!

Hoe was dit moontlik vir hierdie twee mans, Job en Horatio Spafford, om te midde van hulle hartseer en verlies steeds die Here te kon loof en prys? Job skryf: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21b) en in die woorde sy lied doen Horatio dieselfde.

In elke vers van Spafford se pragtige lied getuig hy van geloof en waarheid. Ten spyte van die verskriklike tragedie wat hom getref het, getuig die woorde van die lied van die vertroosting wat hy deur sy geloof in God ontvang het. Die lied vertel van pyn en lyding maar ook van die ewige hoop waarvan Paulus in Romeine skryf, die hoop wat ons as gelowiges almal het.

Gebed: Here, ons verstaan nie almal die lyding wat ons hier op aarde moet verduur nie en soms is die hartseer te groot om te dra. Dankie dat niks wat gebeur het, of miskien nog gaan gebeur nie, ons van u liefde kan skei nie. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.