Gedagte vir die dag: Dit is jou eie keuse hoe jy krisisse gaan hanteer

Kolossense 3:16b – “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.”

Daar word die verhaal vertel van die donkie wat in ’n kuilvoergat geval het. Na baie pogings van die boer en sy handlangers het hy tog besluit dat dit ’n hopelose saak is om die donkie uit die kuilvoergat te kry. Omdat die suurstof so min was onder in die kuilvoergat, en die donkie stilgeraak het, het die boer gedink die donkie is reeds dood. So gee hy sy handlangers opdrag om die donkie toe te gooi. Die donkie het egter nog geleef. Soos die manne die grond in die gat gegooi het, het die donkie begin opstaan en elke keer die grond van sy rug afgeskud en begin beweeg. Hy het elke hoop grond afgeskud en in die rondte begin loop. So het hy al hoër in die gat gestaan, totdat hy self kon uitklim!

Daar gaan altyd krississie en uitdagings in jou lewe wees. Hoe jy dit gaan hanteer hang van jou af. Jy het altyd ʼn keuse hoe jy te midde van ʼn krisis reageer. ʼn Positiewe ingesteldheid beteken dat jy al jou krisisse en uitdagings ook positief moet hanteer. Met elke krisis en uitdaging in ons lewe, is ons soos ʼn donkie in die kuilvoergat met min suurstof. Jy het ’n keuse om alles wat na jou kant toe gegooi word as baie moeilik of gewigtig te ervaar en te gaan lê en sodoende toelaat dat alles wat op jou gegooi word jou versmoor. Of jy kan kies dat dit wat op jou gegooi word deur die samelewing en lewe – af te skud en dit te gebruik om uit te styg en te oorleef! ! Die keuse hoe jy die krisisse gaan hanteer bly joune!

In Kolossense 3:16 leer die Here ons om in alle omstandighede die Here op te soek en Hom te loof met lofgesange. As jy in jou lewe altyd die lof van die Here soek in jou krisisse sal die Here jou die energie gee om jou uitdagings positief te hanteer.

Gebed: Here help my om elke krisis positief te hanteer en op U te vertrou. Help my om nooit moed op te gee nie, al is dit hoe swaar. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.