Gedagte vir die dag: Dit is waar

Matt. 15:26-27 – “Hy sê vir haar: ‘Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.’ ‘Dit is waar, Here,’ sê sy, ‘maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

Nie alles wat die Here in sy Woord vir ons sê en oor ons sê, is vir ons aangenaam om te hoor nie. Vir die onbekeerde is dit nie lekker om te hoor dat die Bybel sê hy of sy is ʼn sondaar en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Rom. 3:23). Dis nie strelend vir mense wat in die een of ander boosheid vasgevang is, om te hoor dat hulle die koninkryk van God nie as erfenis sal verkry nie (Gal 5:21). Toegewyde maar ongeredde godsdienstiges wil nie hoor dat hulle die koninkryk van God nie sal sien as hulle nie weergebore word nie (Joh. 3:3). Vir dié wat hulleself as volgelinge van Jesus beskou, kan dit ontmoedigend wees om te hoor dat iemand wat sy of haar hand aan die ploeg slaan en steeds omkyk agtertoe, nie geskik is vir die koninkryk van God nie (Luk. 9:62).

Hoe dikwels lees ons nie die Bybel met ons eie “filter” nie!. Ons onthou dié woorde wat ons troos wanneer ons in die moeilikheid is. Ons skryf die beloftes van die Here op kaartjies neer en plak dit teen die yskasdeur of spieël vas. Ons onderstreep dié verse in die Bybel wat vir ons soet op die oor val. En dit alles is reg. Maar wat van die woorde wat ons vermaan oor kwaadpraat en liefdeloosheid teenoor ander? Wat van daardie verse wat ons waarsku teen ons wêreldsheid en afvalligheid van God? En wat maak ons met Jesus se Bergrede wat die waardes en beginsels van sy Koninkryk vir ons uitspel?

Gebed: “Here, ek buig voor die gesag van u Woord en erken alles wat U vir my sê as die waarheid. Amen.”

Outeur: Isak Burger: President van AGS & SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.